Select your Top Menu from wp menus
  • Instagram
  • TikTok
Hennie Barnard: Lewe en Regskuns

Hennie Barnard: Lewe en Regskuns

Van Gert Jacobie

DIE naam Hennie Barnard het sedert 1967 in hofsale deur Namibië ge-eggo. Die jong prokureur van Stellenbosch het, vandat hy in Windhoek as aanklaer aangeland het, sy teenwoordigheid duidelik laat hoor. So is hy ook op 24-jarige ouderdom as die jongste Aanklaer-generaal in Suidwes-Afrika se geskiedenis aangestel.

Toe hy Saterdag op 83-jarige ouderdom in Windhoek oorlede is, het regsgeskiedenis saam met hom stil geword en ’n koue voorwinterbries het waarskynlik oor Bethlehem in die Vrystaat gewaai, waar hy op 17 Maart 1943 gebore is, en oor Reitz, waar hy gematrikuleer het, want een van die dorpies se goue seuns het verloop.

Hendrik het op Stellenbosch in die regte gaan studeer, waar hy die grade BA, LLB behaal het. Daar het hy in Huis Visser tuisgegaan. Wie hom geken het, sal weet Hennie was sportmal… sy seun Gerhard het met sy ondersteuning in sport presteer as wêreldklas-naelloper in kort afstande. Hennie self het vir die Westelike Provinsie geboks en selfs een keer “van die bank af” vir die WP se gevierde rugbyspan uitgedraf. In Windhoek was hy ’n senior lid van die Wanderers Sportklub en natuurlik altyd langs die sportvelde waar sy kinders in aksie was. Dalk was hy in aksie en sy kinders die presteerders wat trofeë vir hulle pa huis toe aangedra het.

Hennie was getroud met Hanneke (van den Berg) en die pa van drie seuns, Gerhard, Bennie (reeds oorlede) en Hendrik (jnr.). Hulle suster is Leanri.

Barnard het sy loopbaan in die staatsdiens beëindig en in 1972 saam met Leslie Stern die regsfirma Stern & Barnard begin. Meer as twintig jaar later, in 1996, het Hennie die firma Hennie Barnard & Partners begin.

Sy seun Gerhard, wat in sy pa se voetspore as regsgeleerde gevolg het, beskryf Hennie as ’n uitmuntende straflitigant van byna vyftig jaar, wat ’n vriend en kollega was van regslui, ondersoekbeamptes, landdroste en regters. Hy het uitstekend saamgewerk met sy prokureurs- en advokatekollegas.

Hennie Barnard het hom met regskwessies besig gehou, maar menige kwaaddoener en onskuldige sal vandag getuig dat die geesdriftige regsman hulle redding of ondergang in ’n hof beteken het. So het hy ook diep spore getrap saam met ander regslui wat groot name in die beroep geword het.

Van die name wat opkom uit die hand van Barnard was mense soos Pieter van der Merwe, Sylvia Steenkamp, adv. Johan Swanepoel (latere regter), Gerhard Maritz (ook ’n regter), Jan Wessels, Dirk Breedt, Johan Luckoff en Richard Metcalfe.

Hy was ’n tydgenoot van legendes soos Hans Heyman, Namibië se Prokureur-generaal met onafhanklikheid, en AG Visser wat die ondersoeke na Namibië se grootste na-onafhanklikheidskorrupsie in die Staatsdiens as deel van die Frank-kommissie van Ondersoek gelei het.

Hennie Barnard was ook in aanraking met ’n sagter sy van die lewe. Hy het graag geskryf, baie gelees, gesing en klavier gespeel (op gehoor), en hy was tot laat kompeterend in ligte sportsoorte soos sosiale krieket, snoeker, veerpyltjies en tafeltennis.

Sê Gerhard oor sy pa: “Hy was ’n man van inbors en integriteit, onwrikbaar lojaal en ’n gesinsman.”

Related posts